Wednesday, March 28, 2007

Tydloos

Sjoe, wie sou nou kon dink dat 'n baba soveel van 'n mens se tyd in beslag sal neem? Ja, ek weet almal het ons voor die tyd gewaarsku, (met sulke evil grins), maar jy weet mos nooit voor jy dit nie self aan jou eie bas ervaar het nie. 'n Mens leer gou dat alles vir die eerste paar weke net om baba draai. Van jou gewone roetine kan jy maar vergeet - dis vyf (of ses) keer wakker word in die middel van die nag, dis leer om met een hand op die rekenaar te werk, terwyl die ander hand 'n bottel en 'n baba vashou, nie altyd suksevol nie. En wie sou kon raai dat die grootste deel van ons begroting deesdae op baba-doeke geblaas sou word? Om nie eens te praat van al die bykomstighede nie...Die prys van baba-meubels is genoeg om my nagmeries te gee. Gelukkig is daar so iets soos freecycle hier in Canberra (en op baie ander plekke, ons het die eerste keer in Kanada daarvan gehoor) - dis 'n webwerf waar mense van hul onodige goed ontslae kan raak, en waar jy nog regtig iets verniet kan kry. Enige kapitalis se nagmerrie. Ons het sakke vol babaklere, 'n splinternuwe kot matras, en nog baie ander dinge via freecycle bekom. Arm mense maak maar 'n plan...