Geld
K*k en betaal was altyd die wet van Transvaal (ek wonder of mense in Suid-Afrika nou nog die gesegde gebruik?). Wel, dit is definitief van toepassing hier in Canberra. Jy hoes skaars, dan staan iemand bakhand om die spesifieke diensfooie daarvoor te vra. Wil jy 'n bankrekening oopmaak? Seker, meneer, dit sal jou $50 kos ('Establishment fee', noem hulle dit hier), vir die groot voorreg om by ons 'n rekening te hê. Dieselfde geld vir 'n nuwe telefoon, gas en elektrisiteit- aansluiting (newwermaaind dat dit eintlik maar dieselfde firma is, jy betaal twee keer). En moenie hierdie fooie verwar met 'n deposito nie - jy sien nooit weer die geld nie. Die goeie ou Australia Post het onlangs 'n brief van ons met 'n tjek in "verlê" (ja, dit gebeur hier in Australië ook), en ek moes maar gedwee $15 vir die bank opdok om ‘n $100 tjek te laat kanselleer ('Is dit ok?' vra die kind agter die toonbank vir my, 'Wel, nee' antwoord ek toe, 'maar het ek 'n keuse?'). K*k en betaal en bly maar stil, hier in die land van melk en heuning...

0 Comments:
Post a Comment
<< Home