Tuesday, November 28, 2006

Nasionale Biblioteek Foto

Die Australiese Nasionale Biblioteek, aan die oewer van die Burley Griffin-meer in Canberra (die yl grassies in die voorgrond beteken dat die nasionale droogte nog in volle swang is).

Thursday, November 23, 2006

Geld

K*k en betaal was altyd die wet van Transvaal (ek wonder of mense in Suid-Afrika nou nog die gesegde gebruik?). Wel, dit is definitief van toepassing hier in Canberra. Jy hoes skaars, dan staan iemand bakhand om die spesifieke diensfooie daarvoor te vra. Wil jy 'n bankrekening oopmaak? Seker, meneer, dit sal jou $50 kos ('Establishment fee', noem hulle dit hier), vir die groot voorreg om by ons 'n rekening te hê. Dieselfde geld vir 'n nuwe telefoon, gas en elektrisiteit- aansluiting (newwermaaind dat dit eintlik maar dieselfde firma is, jy betaal twee keer). En moenie hierdie fooie verwar met 'n deposito nie - jy sien nooit weer die geld nie. Die goeie ou Australia Post het onlangs 'n brief van ons met 'n tjek in "verlê" (ja, dit gebeur hier in Australië ook), en ek moes maar gedwee $15 vir die bank opdok om ‘n $100 tjek te laat kanselleer ('Is dit ok?' vra die kind agter die toonbank vir my, 'Wel, nee' antwoord ek toe, 'maar het ek 'n keuse?'). K*k en betaal en bly maar stil, hier in die land van melk en heuning...

Sunday, November 19, 2006

Kultuurskok

Wanneer mens een land vir 'an ander verruil, dan dink jou vriende, half-jaloers dalk, dat dit vir jou soos 'n vakansie gaan wees. En dit is miskien so, vir die eerste paar weke. Die wiitebroods-tydperk, noem hulle dit, voordat die werklikheid inskop. Na 'n paar weke, wanneer jy skielik nuwe deoderant nodig het, of 'n nuwe battery vir jou kamera, dan is die wittebrood vir goed verby. Dan moet jy die aaklige werklikheid van die Supermark in 'n Ander Land invaar. En, glo my, dis nie speletjies nie. Al jou inkopie-kennis en vaardighede wat jy oor baie moeisame jare in jou ou land opgebou het, is skielik niks meer werd nie. Jy is nou weer 'n beginner, 'n baba in die nuwe land. Jy ontdek, tot jou skok, dat (a) die miniatuur supermarkte hier in Australië nie regtig 'n groot verskeidenheid deoderante op hul rakke het nie, (b) daar hoofsaaklik aanspuit en aanrol (so outyds!) deoderante te kry is, en (c) die pryse daarvan jou begroting gaan laat steier. Dis eers dan, wanneer jy begin besef dat jy nou waarlik in 'n nuwe land, met 'n nuwe kultuur is. Maar jy bly optimisties. Gee my net nog so 'n paar jaar, dink jy, dan sal alles ok wees, dan sal ek ook weer weet waar die jellie op die rakke gehou word, of waarom linne hier as 'manchester' bekend staan in die winkels...Nog net 'n paar jaar, dan voel ek weer tuis.

Saturday, November 18, 2006

Canberra, spookdorp

Australiërs is baie trots op Canberra, hulle hoofstad, en hulle vertel graag vir mens hoe dit 'n goed beplande stad is - Van die grond af op beplan, en oe! wat 'n wonderlike plek is dit nie, vol museums en natuurskoon, en....Vra mens hulle egter of hulle dan eendag hier wil kom bly, is daar net so 'n laang stilte. Miskien is dit omdat dit so 'n leë gevoel by mens opwek wanneer jy deur die middestd stap (as mens die middedorp deel van 'n stad kan noem - Canberra is eerder so 'n los getjommel van saai, uitgestrekte woonbuurte), so asof jy deur katakombes wandel, jou voetstappe wat ver eggo. Jy let dit veral op oor naweke, wanneer al die federale regering se burokrate die stad verlaat het, en die groot Sowjet-agtige betonstrukture leeg staan.

Monday, November 13, 2006

Gegroet

Na 'n paar jaar van Ingelse blogging, het dit tyd geword om ook weer in Afrikaans te begin blog.