Wednesday, March 28, 2007

Tydloos

Sjoe, wie sou nou kon dink dat 'n baba soveel van 'n mens se tyd in beslag sal neem? Ja, ek weet almal het ons voor die tyd gewaarsku, (met sulke evil grins), maar jy weet mos nooit voor jy dit nie self aan jou eie bas ervaar het nie. 'n Mens leer gou dat alles vir die eerste paar weke net om baba draai. Van jou gewone roetine kan jy maar vergeet - dis vyf (of ses) keer wakker word in die middel van die nag, dis leer om met een hand op die rekenaar te werk, terwyl die ander hand 'n bottel en 'n baba vashou, nie altyd suksevol nie. En wie sou kon raai dat die grootste deel van ons begroting deesdae op baba-doeke geblaas sou word? Om nie eens te praat van al die bykomstighede nie...Die prys van baba-meubels is genoeg om my nagmeries te gee. Gelukkig is daar so iets soos freecycle hier in Canberra (en op baie ander plekke, ons het die eerste keer in Kanada daarvan gehoor) - dis 'n webwerf waar mense van hul onodige goed ontslae kan raak, en waar jy nog regtig iets verniet kan kry. Enige kapitalis se nagmerrie. Ons het sakke vol babaklere, 'n splinternuwe kot matras, en nog baie ander dinge via freecycle bekom. Arm mense maak maar 'n plan...

Sunday, January 14, 2007

Nuwe jaar, nuwe lewe

Soos meeste van julle wat die Ingelse blog lees seker weet, het ek die afgelope week pa geword vir die eerste keer. So ‘n gebeurtenis laat mens nogal terugsit en dink oor die doel en rigting van jou lewe (dis nou in die kortstondige oomblikke van vrede so tussen die vuil doeke en oneindigende geskree deur). Miskien is dit tyd (so peins ‘n mens in die vroeë oggendure), dat die rustelose jare nagelaat word, en dat ons iewers ‘n regte tuiste moet vind. Ons woon nog nie lank hier in Australië nie, maar soos Laurika Rauch op haar CD “Vier seisoene kind” oor Toronto sing, is hierdie plek ook nie vir my nie. Nes Toronto is die somers hier te warm (dit was die afgelope twee dae onderskeidelik 38 en 40 grade), en die winters bleddie koud, maar die drol in die drinkwater is dat die mense hier maar baie rof en onbeskof is. Ek het al voorheen road rage teëgekom (hoofsaaklik in Suid-Afrika), maar hier in Canberra was dit die eerste keer dat ek shopping rage gesien het. Ek wonder wat maak die Ozzies so kwaad? Hulle het tog nie dieselfde traumatiese geskiedenis wat van Suid-Afrikaners so ‘n aggressiewe lot maak nie…Hierdie is ook ‘n land van gromtjorre en gomtorre. Laas week het die liewe stadstaat regering geld geskenk vir die aanbied van ‘n lawaai-motor byeenkoms, terwyl hulle terselfdertyd skole en biblioteke toemaak weens ‘n gebrek aan geld. Hier in ons voorstad is daar byvoorbeeld meer tatoeëermerke per vierkante meter as by ‘n Hell’s Angels konvensie, en die huisies herinner al te veel aan die ou Pretoriase voorstad Danville. Ja, ek weet dat mens nie ‘n land moet takseer op een of twee dorpe se mense nie, maar Canberra het die hoogste per capita inkomste in Australië, asook die hoogste vlak van opvoeding. So wat sê dit van die res van die land,,,

Ewenwel, so waarheen dan? Ons verlang, soos baie ander ekspats, mos maar nog steeds na Suid-Afrika. Maar na ‘n afwesigheid van 6 jaar, hoe sal ons weer kan aard in daardie land van moer-mekaar, soos die Radio-Kalahari Orkes op hul CD "Opgestook" sing (dis jammer dat dit seker die enigste Afrikaanse groep is wat die wêreldwye herlewing in roots en folk musiek deeglik benut, maar dis ‘n relaas vir ‘n ander tyd). Ons weet ook nie of ons nog welkom daar is nie – Nee, ek praat nie van ons te wit velle nie, alhoewel dit ook sekerlik ‘n faktor is. Ek praat van die snydende kommentaar oor ekspats wat deurentyd in koerante soos die Beeld verskyn…Ons is mos landsverraaiers, papbroeke en dies meer. Ek sien ook juis gister op Wikipedia dat SA nou nommer een op die lys van lande met die hoogste moordsyfer is.

Alhoewel ons altyd in ons harte Suid-Afrikaners sal bly, vermoed ek dat ons seker uiteindelik in Kanada sal opeindig. Dit was aanvanklik baie moeilik om daar aan te pas, want alles was verkeerdom, nie net die feit dat daar aan die ‘verkeerde’ kant van die pad bestuur word nie, maar vir maande het ek in die verkeerde rigting gestaar as ek noord of suid gesoek het. Uiteindelik het ons egter baie vriende daar gemaak, en al die aspekte van die land wat as kanonvoer deur vele komediante word het ons aangestaan. Die beleefde mense, uiters lae misdaadsyfer, die koffie, die sneeu…Mens weet mos instinktief wanneer jy tuisgekom het, wanneer jy op ‘n plek kom wat jy diep in jou hart besef jou ware huis is. Vandag dink ek dis Kanada, maar nog ‘n paar slaaplose nagte, en dit mag dalk Tibet wees…

Monday, December 25, 2006

Geseënde Kersfees uit 'n sonnige Canberra

Kersboom in Civic Square, Canberra.

Saturday, December 23, 2006

Sneeu vir Kersfees

Tussendeur die treurige berigte oor reuse bosbrande en hittegolwe (die helfte van die staat Victoria is besig om af te brand, 500,000+ hektaar tot dusver), vang my ore die volgende brokkie nuus oor die radio - Hulle voorspel sneeu vir Kersfees op die Alpynse berge in Victoria...

Monday, December 18, 2006

Die illusie van veiligheid

Meeste Suid-Afrikaners wat in Australië kom woon, vertel graag hoe veilig dit hier is. En dit is sekerlik heelwat veiliger hier as in die Suid-Afrika van vandag, waar geweld en misdaad hoogty vier. Ek sou ook miskien dieselfde euforie oor Australië kon ervaar het, as ek nie intussen vir ‘n paar jaar in ‘n land soos Kanada gewoon het nie. Elkeen se ervaringe is mos maar relatief. Dis nie dat ek sê Australië moet met SA vergelyk word wat misdaad aanbetref nie, inteendeel, misdaad hier is sekerlik heelwat laer is in die meeste ander wêrelddele. Maar, die vraag is of dit veilig is om hier in die aand alleen buite rond te loop? Noem dit maar die maatstaf. Menige (hoofsaaklik wit) Suid-Afrikaners het mos nostalgiese herinneringe oor die “goeie ou dae”, toe (wit) mense nog hul kinders in die aande buite kon laat speel het, in plekke soos Pretoria en Pietersburg en Naboomspruit. Waar dit definitief nie meer vandag gedoen word nie, behalwe agter die goed-bewaakde mure van die vele sekuriteitsoorde. Dit is ook mos maar een van die hoofredes hoekom mense SA verlaat: sodat hul kinders ‘n beter en veiliger toekoms kan hê.

Gegrond op daardie maatstaf, vermoed meeste Suid-Afrikaners dus dat dit definitief veilig hier in Australië moet wees. My ervaring hier in Australië is egter ietwat anders: Canberra is die stad met die hoogste opvoeding syfer en hoogste per capita inkomste in Australië, en word allerweë as ‘n toonbeeld vir Australië beskou. As 'n streng beplande en burokraties beheerde hoofstad verwag ‘n mens dus dat die plek lae misdaadsyfers sou hê. Daar word byvoorbeeld nie hoë heinings om huise gebou nie (hoofsaaklik omdat dit onwettig is hier, maar dis ‘n ander storie), en van diefwering het meeste Canberrans nog nooit gehoor nie. Tog is daar gereeld huisbrake, aanrandings en selfs motorkapings hier. Graffiti en vandalisme ontsier meeste openbare geboue, parke en skole, en dwelm misbruik en alkoholisme vier hoogty. In Canberra word daar ook elke week ses verkragtings aangemeld. Daar is dus slegs 'n illusie van veilgheid. Dit mag wees dat ander dele van Australië moontlik baie veiliger is, veral die klein plattelandse dorpies, maar hoeveel immigrante gaan werklik in die platteland opeindig?

Thursday, December 07, 2006

Dankie vir die welkom

Die omstrede Australiese politikus Pauline Hanson is weer in die nuus hier onder. Me. Hanson, wat 'n tyd in die tronk deurgebring het weens beweerde verkiesings bedrog, het die One Nation Party in die laat 90's gelei, en was bekend vir haar vele xenofobiese en rassistiese uitsprake. Hierdie keer is haar haatspraak gemik op...Suid-Afrikaners, nogal:
"We're bringing in people from South Africa at the moment. There's a huge amount coming into Australia, who have diseases; they've got AIDS,"
is een van die briljante insae waarmee sy gister tydens 'n onderhoud vorendag gekom het. Sy het ook die regering onder andere daarvan beskuldig dat hulle sommer enige hierjy in die land toelaat, en dat dit heeltemal te maklik is om Australiese burgerskap te verkry (dit nadat hulle sopas die wagtydperk van twee na vier jaar opgeskuif het). Sy laat my sommer baie welkom voel hierso.

Tuesday, November 28, 2006

Nasionale Biblioteek Foto

Die Australiese Nasionale Biblioteek, aan die oewer van die Burley Griffin-meer in Canberra (die yl grassies in die voorgrond beteken dat die nasionale droogte nog in volle swang is).